Namibië kry steun in EPA-verset

Onderstaand artikel werd overgenomen uit het Namibische dagblad www.republikein.com

epa-verset_mmaes Mnr. Marc Maes, handelsbeleidbeampte van die 11.11.11-koalisie vir die Vlaamse Noord-Suid Beweging, tydens ’n betoging vroeër waarin hy en lede van sowat 30 nie-regeringsorganisasies en verteenwoordigers uit Afrika kapsie maak teen die druk wat op Afrika-lande geplaas word om die omstrede ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EPA) te onderteken.
Byna 30 nie-regeringsorganisasies uit tien Europese lande het verlede week hul ondersteuning aan Namibië gegee vir die land se voortgesette weiering om die omstrede ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EPA) met die Europese Unie (EU) in sy huidige vorm te onderteken.

"Ons wil ons bekommernis uitspreek oor die onbehoorlike druk op die Regering van Namibië om die tussentydse EPA te onderteken terwyl onderhandelinge oor die ‘SADC'- EPA voortduur en aanvegbare kwessies steeds onaangeroer is," het mnr. Marc Maes, handelsbeleidbeampte van die 11.11.11-koalisie vir die Vlaamse Noord- Suid Beweging Vrydag in Brussel namens die besorgde instansies aan die Europese handelskommissaris, mnr. Karel de Gucht, geskryf.

"Namibië se sorge oor die inhoud van die geparafeerde teks is heeltemal regverdig en moet deur die EU gerespekteer word," lui die klagskrif.

"Die ondertekening van die tussentydse EPA sal ernstige invloede hê op landbou- en nywerheidsontwikkeling in Namibië. Onder ander gevolge sal die land die beleidsopsie moet verbeur om uitvoerbelastings op rou materiale te gebruik as 'n belangrike aansporing vir waardetoevoeging... en as 'n moontlike belangrike nuwe bron van inkomste."

Die groep NGO's benadruk opnuut dat Namibië alleen onder verset en dreigemente van die sluiting van Europese markte in 2007 voorlopig die inhoud van die tussentydse EPA geparafeer het. Die verstandhouding was dat daar onderhandel sou word oor haakplekke. Volgens die klaers is veranderinge waarop daar intussen ooreengekom is, nog nie deel van die ooreenkoms nie.

"Namibië word dus gevra om 'n weergawe van die ooreenkoms te onderteken en te implementeer wat steeds die ongewysigde, aanvegbare voorwaardes bevat."

Die groep verwerp die EU se argument dat Namibië se handtekening nodig is om die wettigheid van die land se toegang tot Europese markte sedert 2007 aan die die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) te bewys. Oorhaastige kennisgewing aan die WTO, skryf mnr. Maes, is glad nie nodig om voortgesette toegang vir Namibiese produkte te waarborg nie.

Die proses kan volgens hom geskied op grond van die geparafeerde, tussentydse ooreenkoms. Hierbenewens laat die WTO volgens die ontevrede NGO's ook toe dat ooreenkomste waarvan daar kennis gegee is, verander word met 'n nuwe kennisgewing aan die wêreldliggaam.

Behalwe vir die kwessie van voorkeurstatus vir invoere uit Europa is daar volgens die groep boonop huidig geen ander strydvrae oor EPA's in die WTO nie.

"Eerder as om verdere druk op Namibië te plaas, spoor ons u aan om positief in gesprek te tree met die ‘SADC-EPA' lande, en buigsaamheid oor beleid te toon..." is die raad aan mnr. De Gucht.

Só 'n benadering sal volgens NGO's in Duitsland, Swede, Nederland, Frankryk, Ierland, Spanje, België, die Verenigde Koninkryk, Italië en Denemarke respek betoon aan die noodsaaklike integrasieproses in Suider- Afrika, verseker dat geen land swakker daaraan toe is as voordat hy die EPA onderteken het nie en verhoed dat state gedwing word om 'n ooreenkoms te onderteken wat nie hul burgers se beste belange dien nie. Die volgende ronde onderhandelinge vind volgende maand in Brussel plaas.

Deel dit artikel